Die erkenning van objektiewe faktore by die verweer van provokasie in die strafreg
DOI:
https://doi.org/10.38140/jjs.v31i2.2928Abstract
Daar bestaan tans nie volkome sekerheid oor wat die uitwerking van provokasie op aanspreeklikheid is indien ’n beskuldigde van moord aangekla word nie. Veral in die geval waar die provokasie baie sterk is, soos waar X afkom op ’n toneel waar Y besig is om met sy (X se) vrou owerspel te pleeg en X Y dan dood, is dit onseker of ’n Suid-Afrikaanse hof die misdaad van moord na strafbare manslag kan verminder. Daar word betoog dat die Suid-Afrikaanse reg behoort terug te keer na die reëls wat die howe voor omstreeks 1971 gevolg het. Regsbeleid vereis dat X nie heeltemal onskuldig bevind behoort te word nie. Dit vereis egter ook dat X nie aan moord nie, maar slegs aan strafbare manslag skuldig bevind behoort te word, indien aan die vereistes gestel vir die verweer voldoen word. Hierdie kompromie-gevolg kan slegs bereik word indien provokasie as ’n spesiale leerstuk behandel word, dit wil sê een wat nie suiwer deur gebruikmaking van die algemene beginsels van aanspreeklikheid beoordeel word nie. Dit moet as ’n spesiale leerstuk hanteer word, omdat ’n hof nie slegs ’n subjektiewe toets moet toepas om X se skuld te bepaal nie, maar ook, weens die noodsaaklikheid van die erkenning van regsbeleid, ’n objektiewe toets.